‘n Ou, verwaarloosde struktuur wat weer pronk met ‘n nuwe styl? Klink soos een van ons ‘voor en na’ stukkies hier op homify…
Vandag se enetjie wys vir ons een van Rudolf Henning Construction in Bettiesbaai, Kaapstad, wat beheer geneem het van ‘n huisie naby die strand wat ‘n meer moderne ontwerp gekort het.
En terloops, die ou struktuur is al reeds in 1939 gebou, wat beteken alles van die styl en ontwerp tot die bedrading en waterpype moes vervang word!
Ons is seker hierdie huisie se ontwerp was heel oulik toe dit gebou is in die laat 1930s, maar dinge het definitief verander sedert toe – nou lyk dit net oud en afgeskeep.
Plus daardie erfie het definitief al beter dae beleef!
Dis mos nou stukke beter! Meer spasie is aangeskaf nadat die huis in ‘n dubbelverdieping woning omskep is (en sommer ‘n heerlike balkon ook bygekry het)!
En kyk net hoe lekker staan daardie ligte kleure van die huis uit tussendeur die vars groen van die landskap.
As dit is hoe die hart van ‘n huis lyk, is daar mos wragtigwaar groot fout. Ja, die warm kleure van die houtkaste wys bietjie potensiaal, maar die verouderde styl van die vloere, mure, vensters en sommer als bring hierdie kombuis se skoonheid heeltemal af.
Soveel beter! Die sneeuwit kleurskema laat die kombuis tog te netjies en skoon lyk, en ons is mal oor hoe die warm hout van die trap kontrasteer met die res van die vertrek!
Die nuwe styl het die hele huis oorgeneem, ook die badkamer wat ons hier op die nuwe verdieping vind. Dis mos nou ‘n droomspasie – en ja, daardie fantastiese uitsig is een van die hoofredes hoekom ons so sê!
Kyk bietjie na ‘n Johannesburg huis se opknapping.